Press Pages ‘Maak alle vakansiedae langnaweke’ – petisie

‘Maak alle vakansiedae langnaweke’ – petisie
Featured on: Maroela Media

Die plaaslike lugredery FlySafair het onlangs ʼn petisie van stapel gestuur om alle openbare vakansiedae in langnaweke te omskep, ongeag op watter dag van die week daardie vakansiedag val. Dié stap, sê die lugredery, sal wondere vir die sukkelende toerismebedryf verrig.

“Die toename in toerisme-aktiwiteit oor langnaweke maak hierdie voorstel broodnodig vir die oorlewing van die plaaslike toerismebedryf.”

Die lugredery hoop om genoeg steun van lede van die publiek en die toerismebedryf te werf om binnekort ʼn voorlegging aan die parlement te oorhandig, wat vra dat die Wet op Openbare Vakansiedae aangepas word.

“Soos dit nou staan, kry Suid-Afrikaanse werkers in elk geval die dag van ʼn openbare vakansiedag af, hetsy dit in die middel van die week is of nie,” sê hy.

“FlySafair stel voor dat hierdie praktyk ten volle benut word ter ondersteuning van die plaaslike toerismebedryf, deur te verseker dat die dae wat aan openbare vakansiedae afgestaan word altyd op Maandae of Vrydae val en sodoende langnaweke vir elke vakansiedag verseker.”

Die lugredery stel voor dat openbare vakansiedae in die week wel in dae van nalewing omskep word. Dit sal beteken dat die vakansiedag se betekenis steeds op die betrokke historiese datum gevier word, maar die dag wat werkers daarvoor af kry, is dan die naaste Maandag of Vrydag.

“Terwyl dit maklik is om op die regering staat te maak vir finansiële verligting, glo ons by FlySafair dat ons ʼn innoverende en volhoubare oplossing vir die bedryf moet kry sodat dit volkome kan herstel ná die verwoestende gevolge van die Covid-19-pandemie.”

FlySafair het met dié voorstel vorendag gekom ná soortgelyke pogings in lande soos Argentinië, Japan, die VSA en Brittanje.

Die plaaslike verblyfbesprekingswebwerf, LekkeSlaap, het intussen sy steun aan die lugredery se voorstel getoon.

“Die voorstel is ʼn voortreflike stap deur FlySafair, wat nie net homself sal bevoordeel nie, maar ook die Suid-Afrikaanse toerismebedryf in geheel,” sê Gerriline Fouché, hoofbemarkingsbestuurder van LekkeSlaap.

“Toe vanjaar se Erfenisdag op ʼn Vrydag geval het, het LekkeSlaap sowat 30% meer verblyfbesprekings vir die betrokke langnaweek ontvang, in vergelyking met die besprekings wat ons ontvang het toe dieselfde openbare vakansiedag op ʼn Dinsdag in 2019 geval het.”

Volgens Fouché sal hierdie strategiese stap nie net die toerismebedryf in die land bevoordeel nie, maar ook algemene sakeondernemings se produktiwiteit verbeter.

“Talle ondernemings se data wys dat maatskappye aansienlik meer sake doen wanneer ʼn openbare vakansiedag ʼn langnaweek tot gevolg het,” sê sy.

“Hoewel dit ʼn klein verandering vir die regering is om te maak, glo ons dit is ʼn groot stap vorentoe vir binnelandse reis. Dit moedig ook Suid-Afrikaners sterk aan om verder voordeel te trek uit die ongelooflike binnelandse reisgeleenthede wat die sektor bied.”

FlySafair het intussen ʼn beroep op die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA) gedoen om ook hierdie voorstel te ondersteun voordat dit aan die parlement voorgelê word.

© 2024 Tripco (Pty) Ltd. All rights reserved.