Press Pages Pendorings vier pret van kreatief wees in moedertale

Pendorings vier pret van kreatief wees in moedertale
Featured on: Netwerk24

Vanjaar se gesogte Pendoring-toekennings, wat al die afgelope 28 jaar die kreatiwiteit, uniekheid, insig en veelsydigheid in die Suid-Afrikaanse reklamebedryf vier, is Donderdagaand by die kunstesentrum van die Universiteit van Johannesburg (UJ) gehou.

Die reklame-agentskap Joe Public United is as algehele wenner bekroon vir sy Gwijo Formations-speletjie wat vir Chicken Licken ontwikkel is en het met ’n kontantprys van R100 000 weggestap.

Hoewel daar sterk aanspraakmakers vir die gesogte Umpetha-toekenning was, het Joe Public United se Gwijo Formations volgens die beoordelaars kop en skouers bo die res uitgestaan in terme van innovasie, kulturele insig en die slim gebruik van inheemse tale.

Die algehele studentewenner, Red & Yellow Creative School of Business, is R10 000 ryker danksy sy Melktert-verpakkingsontwerp, geskep vir Babylonstoren.

Die Melktert-inskrywing, ’n uitsonderlike verpakkingsontwerp, is gemaak om een stuk melktert te hou en dan in ’n bord uit te vou om dit te eet.

Die inskrywing het innoverende denke vir ontwerp getoon en is eenparig deur die beoordelaars as die beste studente-inskrywing aangewys.

Freckle Creative het goud gewen in die Video-kategorie vir sy gewilde LekkeSlaap-veldtog.

Ander Afrikaanse wenners sluit in “Ons Praat Nie Afrikaans Nie, Ons Sing Dit” van Spotify deur Machine_, “Moenie ’n Koes wees nie, Koer!” deur Dit&Dat Ontwerp, en Stoomasem se #twakpraat-veldtog, ook deur Dit&Dat.

“Die jaarlikse Pendoring-toekennings vier nie net die ongelooflike werk wat in inheemse tale geskep word nie, dit dien ook as inspirasie en is ’n testament van die krag van kommunikasie in inheemse tale,” sê Eben Keun, algemene bestuurder van die Pendorings.

“Vanjaar se tema was 'dlal met jou taal' en dit getuig van die werklike en absolute gelykheid wat ervaar word wanneer ons vrylik kan kommunikeer (en speel) in ons moedertale.”

’n Hoogtepunt van die aand was die aankondiging van die opwindende Indigenous Language Tech-prys, wat die skep van nuwe digitale platforms wat inheemse tale bevorder, stimuleer. Die prys word ondersteun deur die UJ se fakulteit van geesteswetenskappe en die UJ-kantoor vir meertalige taaldienste.

Dit gaan vroeg aanstaande jaar toegeken word en gaan fokus op tegnologiese hulpmiddels en ontwikkelinge wat die gebruik van inheemse tale aanmoedig of vergemaklik.

“Die feit dat die Pendorings vanjaar rekords gebreek het met 421 inskrywings, meer inskrywings as in die vorige jare, en die impak wat hierdie pryse gaan hê op jong kreatiewe mense en professionele persone in die bedryf, maak my opgewonde en hoopvol vir die toekoms van inheemse tale in Suid-Afrika,” sê Keun.

By vanjaar se spoggeleentheid is ’n skaap op ’n spit gebraai en gaste het oor vonkelwyn gesels en gelag. Peuselhappies is op verskeie kreatiewe maniere – soos op ’n ry houtlepels – voorgesit terwyl die gehoor vermaak is deur Louwrens Ferreira, Clem Carr en Flex of He & I.

© 2024 Tripco (Pty) Ltd. All rights reserved.